Europa is die tuiste van omtrent ‘n kwart van die wêreld se Christene, in vergelyking met twee-derdes ‘n eeu gelede, volgens die Pew Research Center. Omtrent ‘n kwart van die wêreldwye Christelike bevolking woon tans in Sub-Sahara-Afrika, terwyl 37 persent in die Amerikas en 13 persent in die Asië-Stille Oseaan-streek woon.
Brasilië het twee keer soveel Rooms-Katolieke as Italië, terwyl Nigerië meer as twee keer so baie Protestante as Duitsland het, waar die Protestantse Hervorming begin het, het die studie getoon.
Ten spyte van al hierdie veranderinge, is Christene nog steeds die wêreld se grootste geloofsgroep, met byna 2,2 miljard aanhangers. Moslems is die tweede grootste groep, met sowat 1,6 miljard mense, of effens minder as ‘n kwart van die wêreld se bevolking, het die studie se skrywers gesê.
Die verskuiwing van die Christelike bevolking is ‘n groot bron van kommer vir kerkleiers, soos hulle probeer om sterker bande met mede-gelowiges oor geografiese grense heen te bou en verskillende sienings van die Bybel te versoen.
Hoofstroom Protestante in die ontwikkelende wêreld is geneig om meer teologies konserwatief as lidmate in die Verenigde State en Wes-Europa te wees. Die spanning is veral sigbaar in die wêreldwye Anglikaanse Kommunie sedert 2003, toe die Episkopaalse Kerk, wat die Anglikaanse liggaam in die Verenigde State van Amerika is, die eerste openlik gay biskop, V. Gene Robinson van New Hampshire verkies het. Die gemeenskap van 77 miljoen lidmate is erg verdeel hieroor.
Die kleinste konsentrasie van Christene kan gevind word in die gebied waar die geloof begin het, naamlik die Midde-Ooste en Noord-Afrika, waar Christene slegs sowat 4 persent van die bevolking verteenwoordig. Egipte het die grootste Christen-bevolking in die streek, met sowat 4,3 miljoen Christene, meestal Ortodoks. Sedert die val van president Hosni Mubarak word hulle egter vervolg.
Net 10 persent van die wêreld se Christene woon nie in lande waar hulle die godsdienstige meerderheid verteenwoordig nie, volgens die studie.
Die lande met die grootste aantal Christene is die Verenigde State, Brasilië, Mexiko en Rusland. Christene bestaan uit byna 80 persent van die Amerikaanse bevolking, en sowat 74 persent van die Russiese burgers.
Ongeveer 5 persent van China se inwoners, of 67 miljoen mense, is Christene, volgens die studie se skrywers.
