“Die Europese Unie se verkiesingswaarnemingsending dink die gebrek aan deursigtigheid en die onreëlmatighede tydens die insameling, samestelling en publikasie van die verkiesing se uitslag is betreurenswaardig,” het die sending in ‘n verklaring oor die verkiesing gesê.
Pres. Joseph Kabila sal vir nog ‘n termyn van vyf jaar die president van die DRK wees.
Die EU-sending het 147 waarnemers na die DRK vir die verkiesing op 28 November gestuur.
Die sending het die “chaotiese” insameling van uitslae, uitsluiting van waarnemers en partyverteenwoordigers by die telsentrums en die feit dat die telsentrums versuim het om vasgestelde prosedures te volg, gekritiseer.
“In die laaste gedeelte van die verkiesingsproses was daar talle reëls wat verbreek is. Dit maak dat ons die geloofwaardigheid van die uitslag bevraagteken,” het die sending gesê.
Volgens die verklaring het die telsentrums versuim om 7.6% van die rofweg 64 000 stemlokale landwyd se stemme te tel. Dit het ‘n geskatte 1,6 miljoen burgers se stemme uit die finale uitslag gesluit.
Van die 4 875 stemlokale waar stemme nooit getel is nie, is 2 020 in Kinshasa, die hoofstad, wat ‘n vesting vir die opposisie is.
