Nobanda is vroeër die week in hegtenis geneem nadat sy kokaïne in haar rastalokke die land ingesmokkel het.
Die DA sê hy gaan ondersoek instel oor wat die departement doen om Nobanda se welstand te verseker.
Die party sê die teregstelling van nog ‘n Suid-Afrikaner, Janice Bronwyn Linden in ‘n tronk in China, ook weens dwelmsmokkelary, het vrae oor of die regering alles moontlik gedoen het om haar regte te beskerm, gelaat.
Linden is Maandag tereggestel.
“My kind was vir drie jaar by die Witwatersrand-universiteit geregistreer en was besig om vanjaar by Unisa klaar te maak, het haar pa, Partick Ncepu gesê.
“Ek kan selfs vir julle haar studente nommer wys.”
Vroeër het Wits gesê sy is nie as student by die universiteit geregistreer nie.
“Wits-universiteit wil op rekord plaas dat me. Nolubabalo Nobanda, ‘n vermeende dwelmmuil, nooit as ‘n student by Wits-universiteit geregistreer is nie,” het Shirona Patel, woordvoerder van die universiteit, in ‘n verklaring gesê.
“Die universiteit kan niemand onder dié naam opspoor nie.”
Wits het Woensdagmiddag ‘n tweede verklaring uitgereik om te sê dat, volgens nuwe inligting en ‘n verdere ondersoek, Nobanda wel in 2007 as student by die universiteit geregistreer was.
“Na ‘n verdere ondersoek kan die universiteit bevestig dat me. Nolubabalo Nobanda as ‘n student in 2007 geregistreer is. Ons het geen rekord dat sy geherregistreer het in 2008 nie. Die universiteit vra om verskoning dat ‘n misverstand oor die aangeleentheid kon onstaan het,” het die verklaring gelui.
The Star het Woensdag berig dat Nobanda volgens haar Facebook-profiel “iets in die regsrigting” by Wits-universiteit studeer.
Die 23-jarige is Maandag in Thailand deursoek nadat beamptes kort ná haar aankoms ‘n wit poeier in haar hare raakgesien het.
Die polisie het 1,5 kg kokaïne met ‘n geraamde herverkoopwaarde van $150 000 in haar rastalokke gevind.
Sy het aan owerhede erken dat sy die dwelms gesmokkel het en gesê sy is gehuur om die kokaïne na ‘n klant by ‘n hotel in Bangkok te neem.
