‘n Nuwe 24-uur-pornografiese kykkanaal sal vanaf Januarie 2012 op satelliet-televisie in Suid-Afrika te siene wees.
Die pornokanaal, ook bekend as PSat, is Frans en word van buite Suid-Afrika se jurisdiksie uitgesaai, het John Solomon van African Satellite Installations (ASI)gesê.
Dié maatskappy sal spesiale dekodeerders en slimkaarte teen R99 per maand
aan kykers beskikbaar stel.
Suid-Afrikaanse owerhede het geen beheer oor die porno-inhoud nie.
“PSat is heeltemal onafhanklik van ander satelliet-kanale en jy sal ‘n spesiale dekodeerder, slimkaart en satellietskottel benodig om na die kanaal te kyk,” het Solomon gesê.
“Al wat jy moet doen is om jou TopTV-dekodeerder met die PSat-dekodeerder te vervang.”
Die kanaal sal op die Astra 4A-satelliet, dieselfde satelliet wat deur TopTV gebruik word, uitgesaai word.
Die dekodeerders word slegs verhuur en bly die eiendom van die verskaffer.
ASI het glo reeds 5 000 sulke dekodeerders bestel.
