COP17: Nuwe bedelbak

COP17 het in ‘n nuwe swart bedelbak ontaard, nadat die Afrika-Unie daarop aangedring het dat ontwikkelde lande Afrika betaal om besoedeling hok te slaan.

Groen ekonomiese ontwikkeling gaan glo ryk lande $600 miljard uit die sak jaag.

‘n Bedrag van $100 miljard wat vir die hele ontwikkelende wêreld voorsien word, is een van die ernstige knelpunte by COP17 omdat dié bedrag vir alle arm lande in die vooruitsig gestel word, en nie net vir Afrika nie.

“Die 54 lande in die Afrika-groep [by COP17] dring aan daarop dat die wêreld se rykste lande 1,5% van hul bruto nasionale produk aan Afrika afstaan,” het Seyni Nafo, woordvoerder van die AU, Woensdag in Durban verklaar.

“Die $100 miljard wat op die tafel is as die teiken van die beplande Groen Klimaatfonds (GKF) is net ‘n simboliese bedrag,” het hy gesê.

“Die ontwikkelde lande het ‘n verpligting teenoor Afrika om hom nie net vir sy eeue lange uitbuiting van die vasteland en sy mense te vergoed nie, maar ook vir die skade wat hulle die afgelope 200 jaar deurentyd met nywerheidsbesoedeling aanrig,” het Nafo gesê.

Hy het beklemtoon dat die VSA, Kanada, die EU en Japan hulle teen volgende Vrydag tot die GKF behoort te verbind. Nafo het Japan en Kanada, wat reeds gesê het hulle gaan uit die Kioto-verdrag uittree, gewaarsku dat hulle onderskeie besluite “gevolge” sal inhou.

Afrika-lande wil insae in die GKF-fondse hê asook bepaal wie die geld kry en waar dit aangewend word.

Volgens Nafo sal die IMF en die Wêreldbank nie die klimaatfonds na behore kan bestuur nie, aangesien “Afrika nie tevrede is met die deursigtigheid” van dié twee instellings nie.

Die eerste GKF-paaiement van $10 miljard aan Afrika moet reeds teen volgende jaar beskikbaar gestel word, sê die AU.

Фильчаков прокурор отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae