“Ons benodig ‘n enkele ontwikkelingsteorie vir Suid-Afrika in ooreenstemming met wat ons wil bereik as ‘n land, en wat ons op die oomblik nie het nie,” het hy aan verslaggewers by die parlement gesê.
“Jy kan oor enigiets anders praat, en die fundamentele vraag bly of jy ‘n strategie het… en Suid-Afrika is een van daardie lande… wat nie ‘n plan het nie.”
Mbalula het gesê die witskrif-proses het uitgesak ná die era van Steve Tshwete.
Die nasionale sportindaba in Midrand volgende week het ten doel om hierdie probleem reg te stel, het hy gesê. Die doel is om die sportplan van papier na implementering te neem.
“Mense kla. Hulle kla oor baie dinge, oor transformasie… maar almal moet oor transformasie kan praat en weet wat die doelwit is.”
Australië was jare gelede in dieselfde posisie waar Suid-Afrika nou is, het hy gesê. Die land het toe ‘n nasionale sportplan uitgestippel en die sukses is vandag duidelik. Dieselfde geld, onder meer, vir Amerika en die Verenigde Koninkryk.
Mbalula het gesê beskikbare talent moet “opgeneem word in ‘n nasionale sport- en ontspanningsentrum”, waar jongmense deur ‘n “ontwikkelingstelsel” sal werk.
“Jy kan van die stowwerige strate van Botshabelo af kom. As ons jou kan identifiseer, kry ons jou deur die stelsel.
“Ons sal jou na die sentrum neem, jy sal skoolgaan, jy sal behoorlik eet, jy sal behoorlik oefen en daar sal na jou omgesien word met behulp van beide privaat- en openbaresektorbefondsing.
“Dan sal jy die atleet word wat jy wil wees. Dit is wat ons wil bereik.”
Daar is geen krisis in sport nie, het hy gesê. Die feit is dat mense “uitsak in die ontwikkelingstelsel”.
“As jy nie gelukkig en taai is en ouers het wat jou ondersteun nie, is jy uit [die stelsel uit].”
Oor kwotas het Mbalula gesê dit is uitgedien en teenproduktief.
‘n Enkele behoorlike en doeltreffende ontwikkelingplan is dus nodig, het hy gesê.
