“Daar was deurentyd tekens dat die besluit was om die leierskap te skors,” het Malema aan verslaggewers in Johannesburg gesê.
“‘n Besluit om die ANC Jeugliga-leierskap te skors en te sanksioneer is deur die [ANC] sekretaris-generaal Gwede Mantashe geneem, wat sy bedoelinge duidelik in al sy stellings laat blyk het.”
Mantashe het gesê die Jeugliga het “‘n grens oorgesteek” vóór die dissiplinêre verhoor begin het.
“As iemand sê ‘n grens oorsteek is dit ‘n veroordeling,” het Malema gesê.
Hy het gesê die nasionale dissiplinêre komitee (NDC) is byeengeroep “net” om die veroordeling legitimiteit te gee.
Die ANC Jeugliga kan “totaal” nie saamstem daarmee nie en verwerp die uitslag van die dissiplinêre verhore en sal appelleer teen die bevindinge.
Malema is as die ANC-jeugliga se president geskors verlede week nadat hy skuldig bevind is daarvan dat hy ernstige verdeeldheid binne die ANC saai en die party in oneer bring.
Malema het gesê dit was duidelik dat die NDC se voorsitter Derek Hanekom, ‘n politieke agenda het.
Hanekom het versuim om sy humeur te beteuel en woede-uitbarstings gehad tydens die verhore. Om hierdie rede, moes hy homself onttrek het, het Malema gesê.
Die ANC-Jeugliga het ook gevra dat Susan Shabangu en Colins Chabane hulself van die verhore verskoon, maar sy versoek is geweier.
Die dissiplinêre verhore is gebruik om ‘n politieke geskil op te los, het Malema gesê.
Daar heers agterdog en kommer oor die legitimiteit van die verhore.
Malema het gesê dit is die mees kritieke tyd om die ANCJL te verdedig.
“Ons stryd sal nie ondermyn word nie, die oorwinning is seker,” het hy gesê.
