Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, is vir vyf jaar uit die party geskors nadat hy skuldig bevind is op twee van die vier aanklagte teen hom. Hy en sy medebeskuldigdes is reeds in kennis gestel van die komitee se bevindinge.
Hulle het 14 dae om by die nasionale appèlkomitee appèl aan te teken. Cyril Ramaphosa tree as voorsitter van die appèlkomitee op.
Wat die twee aanklagte betref is bevind Malema het verdeeldheid gesaai in die party nadat hy gesê het die Afrika-Unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Afrika-agenda was beter gedien deur oudpres. Thabo Mbeki. Malema het ook die ANC in oneer bring oor sy uitlatings oor Botswana. Die aanklag van rassisme teen Malema is afgewys.
Floyd Shivambu is vir drie jaar uit die ANC en die ANC-jeugliga geskors omdat hy ‘n joernalis gevloek het. Dié skorsing is nie opgeskort nie.
Malema, Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal is ook daarvan aangekla dat hulle ‘n vergadering van die ANC sonder uitnodiging bygewoon en ontwrig het. Hulle is skuldig bevind op dié aanklag en twee jaar geskors. Die skorsing is opgeskort vir ‘n tydperk van drie jaar.
