OB moet bloulig-jaagduiwels uitskud

“Die Vryheidsfront Plus gaan die Openbare Beskermer (OB) versoek om ‘n volledige ondersoek te doen na alle voorvalle waar padverbruikers betrokke was in insidente met bloulig-motors van ampsdraers.
Daar is ‘n merkbare toename in die aantal voorvalle waar ampsmotors ongelukke veroorsaak of padverbruikers deur die bestuurders van die bloulig-motors geïntimideer of gedreig word. Ons wil hê dat die OB aanbevelings maak oor regulasies wat die gebruik van hierdie soort motors sal inperk,” het adv. Anton Alberts, die parlementêre woordvoerder oor vervoer vir die Vryheidsfront Plus, gesê.

“Dit is duidelik dat die elite misbruik maak van bloulig-motors deur onverskillig te ry en die lewens van ander padverbruikers in gevaar stel, soos nou weer eens die geval was waar die LUR vir plaaslike regering en behuising in Gauteng se bloulig-motor ‘n ongeluk gemaak het en daartoe gelei het dat Thomas Ferreira in ‘n ernstige toestand in die hospitaal is.

Daar moet dringend regulasies opgestel word wat die gebruik van blou ligte op ampsmotors sal inperk. Daarom vra ons dat die publiek gevalle aanmeld waar hulle deur persone met blou ligte gedreig word of in ongelukke met die motors betrokke was sodat die OB hierdie insidente in haar ondersoek kan insluit,” het adv. Alberts bygevoeg.

Die VF Plus doen ook ‘n beroep op die minister van vervoer, mnr. S’bu Ndebele, om te verseker dat ampsdraers wat met bloulig-motors ry ‘n voorbeeld stel wanneer hulle op die land se paaie ry. Padverbruikers wat weens ongelukke met bloulig-motors sterf, is deel van die 14 000 persone wat in motorongelukke op Suid-Afrika se paaie jaarliks sterf.

“Die roekelose en nalatige bestuur van bloulig-motors van senior amptenare van die regering moet eers deur die minister aangespreek word alvorens hy van gewone padverbruikers kan vra om hulle optrede te verander. Die minister moet daarop aandring dat sy kollegas ‘n beter voorbeeld stel om so by te dra tot ‘n afname in sterfgevalle op ons paaie,” meen adv. Alberts.

данильченко юрій броніславович компромат

Maak 'n opvolg-bydrae