Dié stelling is so ooglopend vals, dat Eddie Cross, MDC-LP vir Bulawayo Suid, wou uitvind wat die situasie eintlik is. Na drie maande van ondersoek het hy tot die gevolgtrekking gekom dat die produksie en verkope van Marange in 2010 $4 miljard beloop het en dat die syfers wat aan die kiesers voorgehou word net 5 persent daarvan is vir 5 jaar se produksie en verkope.
Die Marangevelde is een van die grootste diamantontdekkings in die geskiedenis van die bedryf. Geoloë wat die veld intensief bestudeer het, skat dat hulle tussen 2 en 7 miljard karaat van ruwe diamante bevat. Dit het ‘n nominale waarde van tussen $200 en $1400 miljard dollar.
In enige land is hierdie bedrae so groot dat hulle van belang sou wees, en in Zimbabwe is dit eenvoudig verstommend. Indien reg aangewend kan hospitale, skole en paaie herstel word. Trouens, ‘n hele omvattende heropbouprogram kan geloods word.
Zimbabwe het intussen pas gekwalifiseer vir lidmaatskap van die Kimberlyproses, indien hulle voldoen aan standaarde van deursigtigheid en aanspreeklikheid.
Dié gekwalifiseerde goedkeuring is egter voortydig aangesien die regering se rapportering oor hul diamantverkope ver te kort skiet in terme van die standaarde wat vereis word.
Daarbenewens is daar die kwessie dat die moontlike aanwending van hierdie massiewe hulpbron Zimbabwe verder kan ondermyn.
Daar is tans genoeg bewyse dat die mense wat die diamantvelde in Marange beheer gekoppel is aan vier groepe, volgens Cross. Hulle is senior figure in Zanu-PF, senior figure in die Zimbabwe-weermag en polisie en ‘n skaduagtige groep Mafiastylfigure wat op die rand van die globale diamant en onwettige handel opereer.
Die vierde skaduagtige groep waaroor niks bekend is nie, is die Chinese regeringsagentskappe wat die velde met Chinese arbeid ontgin; hierdie laaste groep is ook verbind aan die Zimbabwiese veiligheidsestablishment.
In dorpe en stede is daar oorgenoeg bewyse van groot luukse huise wat gebou word deur beamptes wat gekoppel is aan die plaaslike veiligheidsestablishment.
Baie hiervan sou Sandton se huiseienaars laat bloos. Dan is daar die uitspattige lewenstyl van daardie individue wat gekoppel is aan die myne. Die minister van mynwese in Zimbabwe spandeer baie miljoene dollars op die verkryging van ondernemings, eiendomme en voertuie die afgelope paar maande op ‘n salaris van $2000 per maand.
Die geldstroom is volgens Cross genoeg om regerings te kan destabiliseer wat verskil van die Zanu-PF-leiers, want die vloei van diamante en die inkomste wat daaruit voortspruit, word streng deur hulle beheer.
Dit is ‘n werklike bedreiging vir die hele streek asook vir ‘n oplossing vir Zimbabwe se voortgesette en eindelose krisis. Dit is selfs genoeg geld om Suid-Afrika te destabiliseer, waarsku Cross.
Bron: www.eddiecross.africanherd.com
