Die federasie wil die “plaag van korrupsie uitroei”, van korrupte elemente wat politieke bewegings vir persoonlike gewin uitbuit, het hy gesê. Skuldiges, ongeag van hul politieke affiliasie of politieke en ekonomiese bande, moet vervolg word.
Die politiek van begunstiging, korrupsie en hebsug kan die revolusionêre beweging vernietig, het hy gemaan. Vavi sê die gevaarlike toename in faksievorming is steeds nie oor ideologie of politieke verskille nie, maar oor die toegang tot tenders.
Die ergste probleem is volgens die vakbondleier die opkoms van sluipmoordbendes in verskeie provinsies wat gekoppel is aan tenderbedrog en sluipmoorde op fluitjieblasers.
Daar is ‘n werklike gevaar dat die hele staat en samelewing opgeveil sal word aan die hoogste bod, wat Suid-Afrika in ‘n piesangrepubliek sal verander, het hy gewaarsku.
Cosatu het die oprigting van sy “Corruption Watch”, wat op Januarie 2012 van stapel gestuur word, aangekondig.
