Nie net duur stralers vir die president en sy adjunk nie, maar duur partytjies is aan die orde van die dag. Die ANC se 100ste verjaardagpartytjie gaan ten minste R100 miljoen kos.
Baleka Mbete, die ANC se nasionale voorsitter, het Dinsdag by ‘n mediakonferensie in Luthuli-huis in Johannesburg gesê dit is nie goedkoop nie, maar dis glo elke sent werd.
Nagenoeg 150 000 mense sal die eeufeesvieringe in Januarie in Bloemfontein bywoon wat al die afgelope twee jaar beplan word. Oudpres. Nelson Mandela sal ook die geleentheid bywoon as hy gesond genoeg is.
Die fees sal onder meer ‘n nagwaak, toekenningsparade, tradisionele reinigingseremonie en ‘n presidensiële gala-aand insluit wat in die Mangaung-rugbystadion gehou sal word.
Talle Afrika-leiers sal die fees bywoon, asook voormalige lede van bevrydings- en ou anti-apartheidsbewegings wêreldwyd.
