Kleinfonteiner vermoor nadat hy wou help

‘n Jong man van Kleinfontein, Chris Conradie (23) is Vrydagaand in koele bloede doodgeskiet toe hy en twee vriende naby die swart plakkerskamp, Diepsloot, langs die N14-hoofweg tussen Krugersdorp en Pretoria stilgehou het om ‘n gestrande voertuig se insittendes te help.

Sy vriend Quintin Dekker (24) het met hom na ‘n hospitaal gejaag, terwyl Werner Buhr (25) die wonde probeer toegedruk het.

Conradie, Buhr en Dekker was omstreeks middernag op pad van Krugersdorp na Pretoria toe hulle by die R511-afrit stilgehou het omdat hulle gedink het dis ‘n ongeluk.

‘n BMW wat die linkerbaan gedeeltelik versper het, se ligte het geflits.

Nadat Conradie gaan ondersoek instel het, is daar op hulle geskiet. Hy het teruggehardloop na die kar maar skote is deur sy venster geskiet en hy is twee keer in die bors getref.

Buhr is in die been getref deur die agterruit. Dekker het van die toneel weggejaag na ‘n hospitaal. Hy het die polisie in die ry ontbied.

Dekker het aan Beeld gesê: “Ek het net probeer wegkom, want die skote het aanhou kom en kom en kom. Die Here het ons gelei om daar weg te kom, want ons al drie moes daar doodgegaan het.”

Conradie was by sy aankoms by die Unitas-hospitaal in Centurion reeds dood.

Conradie laat sy ouers en twee broers agter. Sy begrafnisdiens sal môre om 09:30 in die Kleinfontein-gemeenskapsaal in Kleinfontein, buite Pretoria, gehou word.

Conradie en Buhr werk albei in Zambië en was met vakansie in Suid-Afrika. Hulle sou Dinsdag terugvlieg om hulle werk by ‘n myn daar te hervat.

Александр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae