Navorsing deur die Britse dinkskrum Demo’s het vir die eerste keer die houding onder ondersteuners van sogenaamde verregse groepe aanlyn ondersoek. Deur gebruik te maak van advertensies op Facebook-groepe, het hulle meer as 10 000 volgelinge van 14 partye en straat-organisasies in 11 lande gekry om gedetailleerde vraelyste in te vul.
Die studie toon ‘n kontinent-wye verspreiding van ‘n harde nasionalistiese sentiment onder die jeug, veral mans. Hulle is diep sinies oor hul eie regerings en die EU, en hul vrees oor die toekoms is gefokus op kulturele identiteit, met Moslemimmigrasie as die grootste bekommernis.
“Ons is by ‘n kruispad in die Europese geskiedenis,” sê Emine Bozkurt, ‘n Nederlandse parlementslid wat die anti-rassisme lobby in die Europese Parlement lei. “In vyf jaar se tyd sal ons ‘n toename in ultra-nasionalisme, xenofobie, Moslemhaat en antisemitisme sien.”
Data vir die studie is hoofsaaklik in Julie en Augustus versamel, vóór die verergering van die eurosone-krisis. Wat Bozkurt in vyf jaar sien gebeur is dus waarskynlik reeds ‘n werklikheid ná die Griekse skuldkrisis.
Die verslag beklemtoon die voorkoms van die anti-immigrante gevoel, veral teen Moslems. “As antisemitisme ‘n verenigende faktor vir die verregse partye in die 1910’s, 20s en 30s was, is Moslemhaat die samebindende faktor in die vroeë dekades van die 21ste eeu,” sê Thomas Klau van die European Council on Foreign Relations, wat Maandag se konferensie bygewoon het.
Partye met ‘n anti-immigrasiebeleid het buite die tradisioneel regse vestings in Frankryk, Italië en Oostenryk ontstaan, selfs in die liberale Nederland en Skandinawië en is nou as beduidende parlementêre blokke in agt lande geanker.
In lande buite die kontinent is die opkoms van nasionalistiese straatbewegings soos die Engelse Defence League (EDL) ook van belang. Maar, sê kenners, stemlokale en optogte is slegs ‘n deel van die prentjie: Aanlyn is ‘n nuwe generasie van hierdie organisasies besig om idees uit te ruil, veral deur Facebook. Vir die meeste partye is die getalle aanlyn aansienlik groter as hul formele lidmaatskapgetalle.
Frankryk se Front National, was altyd ‘n belangrike krag in die land se politiek vir 25 jaar lank, maar is tans ‘n realistiese uitdager in aanstaande jaar se presidensiële verkiesing.
Nóg ‘n Franse organisasie, Bloc Indentitaire, is veral bekend vir hul “identiteitsop” van varkvleis vir hawelose mense in Frankryk.
Skandinawiese partye wat in die afgelope paar jaar gefloreer het, kombineer linkse welsynsbeleid met heftige teenkanting teen alle vorme van multikulturalisme.
Jeug, is ‘n gemeenskaplike faktor. Facebook se eie reklame-instrument het Demos in staat gestel om data van byna 450 000 ondersteuners van die 14 organisasies te verwerk. Byna twee derdes is onder die ouderdom van 30, en manlik.
Hulle voer aan dat Islam eenvoudig die antitetiese van ‘n liberale demokrasie is, ‘n standpunt wat deur Geert Wilders, die leier van die PVV, verwoord word. Wilders het, slegs ses jaar nadat sy party gestig is, die derde grootste krag in Nederland se parlement geword.
Hierdie groepe sê aan kiesers dit is nie rassisties om jou te verset teen ander groepe as jy doen dit vanuit die oogpunt van jou eie waardes nie. Dit is die rede waarom mense soos Geert Wilders bondgenote in die hoofstroom politieke establishment en die media het, sê selfs linkse kommentators.
Terwyl die stembus wys dat ekonomie ‘n minimale rol speel, glo ontleders die eurosone-krisis is waarskynlik ‘n sleutel tot die groei van regse sentiment.
Die verskynsel het nou veel verder as bloot ‘n protesstem gevorder, sê kenners, met baie ondersteuners wat bekommerd voel oor nasionale en etniese identiteit. Dié kwessie word tot dusver grootliks geïgnoreer deur die hoofstroom-partye.
Jamie Bartlett van Demo’s, die belangrikste skrywer van die verslag, het gesê dit is belangrik om kennis te neem van die verspreiding van sulke houdings onder die nuwe generasie van aanlyn-aktiviste wat veel meer as formele lidmaatskap van sodanige partye behels. “Daar is honderdeduisende van hulle oor die hele Europa. Hulle is ontnugter met die hoofstroompolitiek en die Europese politieke instellings en bekommerd oor die erosie van hul kulturele en nasionale identiteit, en draai na populistiese bewegings, wat hulle voel hierdie kommer aanspreek.
“Hierdie aktiviste is grootliks uit die gesigsveld van hoofstroompolitici, maar is gemotiveerd, aktief, en groei in grootte. Politici regoor die kontinent het nodig om regop te sit, te luister en daarop te reageer.”
‘n Politieke party, met tienduisende aanlyn-ondersteuners is een ding, maar die vertaling van hierdie steun in werklike stemme is ‘n heel ander. Die Demo’sopname het bevind dat net 67% van die regse Facebook-ondersteuners in die mees onlangse verkiesing gestem het.
Verdere analise het bevind dat vroulike ondersteuners meer geneig is om ondersteuning te omskep in ‘n stem. Regse manlike ondersteuners dink waarskynlik aan ander maniere as die stembus om invloed te kan uitoefen…
