Die Kamer van Mynwese sê hy is meer bekommerd oor die oproepe om die nasionalisering van myne as oor die ANC-Jeugliga se optogte vandag en môre in Gauteng.
Die kantoor van die Kamer van Mynwese is die eerste plek waar die optoggangers sal aandoen. Die direkteur van die Kamer, dr Frans Barker sê beleggers sal nie deur die optogte verontrus word nie, omdat hulle weet dit is deel van die Suid-Afrikaanse kultuur.
Hy sê die nasionaliseringskwessie wek egter kommer. Baker het verder gesê almal in die land deel die kommer oor werkloosheid.
Meer as die helfte van alle werklose Suid-Afrikaners is jongmense, onder wie 250-duisend gegradueerdes. Die ANC-Jeugliga sê diegene en talle ander ekonomiese werklikhede het tot die optogte aanleiding gegee wat vandag gehou word.
Duisende jeugdiges sal na verwagting daaraan deelneem. Johannesburgse motoriste is intussen gewaarsku om verskeie strate in die stad te vermy waar duisende jeugdiges by die Beyers Naude-plein in die middestad verwag word.
Die optoggangers sal vandaar na die kantore van die Kamer van Mynwese stap en dan na die JSE in Sandton. Die Jeugliga eis onder andere die nasionalisering van myne, die onteiening van grond sonder vergoeding en werksgeleenthede vir die jeug.
Die Jeugliga het vroeër die versekering gegee dat die optog vreedsaam sal wees, te midde van waarskuwings dat wet en orde sal geld.
