Die New York Times, moontlik die invloedrykste koerant in die VSA, het enkele dae gelede ‘n meningsartikel gepubliseer waarin die land se immorele grypsug en verskuiwing na die nie-Westerse invloedsfeer aan die groot klok gehang word.
Volgens die skrywer, Alan Cowell, het Suid-Afrika “van die morele hoë grond gegly” en word nou deur ‘n “hardgebakte pragmatisme” gekenmerk. Die land se steun vir Moemmar Gaddafi en sy versuim om ‘n visum aan die Dalai Lama uit te reik, word as voorbeelde van sy amorele buitelandse beleid gesien. Die koerant haal vir Eusebius McKaiser aan wat in ‘n openbare lesing sou gesê het: “Dit is vir my helder dat ons geen morele buitelandse beleid het nie.”
Die New York Times neem ook deeglik kennis dat Suid-Afrika nie meer tot die Westerse invloedsfeer behoort nie. Die Dalai-Lama-visumkwessie word as “‘n knieval aan China se mag” gesien.
Verder het die waardes van die nuwe grondwet plek gemaak vir ‘n kultuur van kitsrykdom. “Korrupsie en die koop van invloed het beginsels en die beloofde deursigtigheid vervang,” skryf die koerant en haal vir Njabulo S. Ndebele aan wat meen “die Suid-Afrikaanse revolusie mag op sigself vekorrupteer geraak het deur die aantrekkingskrag van kitsrykdom, wat ‘n potensieel rampspoedige ineenstorting weerspieël van die eens samehangende begrip van die postapartheidsprojek soos dit ons grondwet vervat is.”
Die artikel sluit af deur te verklaar dat Thabo Mbeki se “Afrika-renaissance” beswaarlik onder die huidige omstandighede gaan plaasvind.
Lees die volledige artikel in Engels hier.
