Die wêreld se grootste skenker, die Europese Unie het Donderdag besluit om steun vir opkomende magte soos China, Indië en Suid-Afrika in te kort en om te fokus op die wêreld se armste lande.
Die Europese Kommissie het ingrypende veranderinge aan die verspreiding van die EU-hulp onthul, en die kommer van internasionale liefdadigheidsgroepe gaande gemaak dat die besluit ten koste van die behoeftigste mense sal kom.
Die hervorming is dan ook daarop gemik om te fokus op sleutel-groeisektore soos landbou en energie, maar nie-regeringsorganisasies soos Oxfam en ActionAid het gesê die EU-maatskappye sal voordeel trek, terwyl dit ‘n “twyfelagtige impak” vir die armes inhou.
“Ons probeer tred te hou met die veranderende realiteite in die wêreld en die manier waarop ons veg teen armoede daarvolgens aan te pas,” sê EU-ontwikkelingskommissaris Andris Piebalgs gesê.
“Dis hoekom ek vandag voorstel dat ons ons hulpprioriteite herfokus om te verseker dat die lande op die regte spoor bly ter bereiking van volhoubare en inklusiewe groei, Ek wil seker maak dat elke euro dié wat dit die nodigste het, bereik,” het hy gesê.
Die 27-state van die EU is die wêreld se grootste skenker, wat vir 50 persent van die wêreld steun met 53,8 miljard euro verlede jaar ingestaan het. Die Europese Kommissie, die EU se uitvoerende arm, bestuur 20 persent van die steun, of 11 miljard euro.
Die kommissie het in ‘n beleidsverklaring gesê dat hulle die “volume en deel van die EU-hulp aan die lande skenk wat die meeste nood ervaar en waar die EU ‘n werklike impak, insluitende op swak state, kan hê.”
Dit sal beteken dat steun aan die wêreld se opkomende magte verminder sal word. Tussen 2007-2013, is sowat 980 miljoen euro geoormerk aan Suid-Afrika, 470 miljoen euro vir Indië, 170 miljoen euro vir China en 61 miljoen euro vir Brasilië.
Ander middel-inkomste lande soos Argentinië sal ook ‘n daling in steun sien, het Piebalgs gesê, en bygevoeg dat ‘n volledige lys teen die einde van die jaar vrygestel sal word.
Die kommissie wil sy aktiwiteite beperk tot landbou en energie, asook goeie bestuur, sosiale beskerming, gesondheid en onderwys.
