Julius Malema, president van die ANC-Jeugliga, is in ‘n privaat-hospitaal in Polokwane opgeneem, het die SABC Woensdag berig.
Hy ly aan “griepsimptome”, het die uitsaaier gesê.
Malema het sy regsverteenwoordigers in kennis gestel dat hy nie Donderdag in Johannesburg sy dissiplinêre verhoor van die ANC sal bywoon nie.
Malema, Floyd Shivambu, Sindiso Magaqa, Ronald Lamola, Pule Mabe en Kenetswe Mosenogi is die ANCJL-lede wat verskeie dissiplinêre aanklagte in die gesig staar.
Onder meer is hulle aangekla ná opmerkings dat die ANCJL sou help om ‘n bewindverandering in Botswana te bewerkstellig.
Die ses lede het aan die ANC om verskoning gevra en het hul verklaring teruggetrek. Hulle word ook daarvan aangekla dat hulle onmin gesaai het in die ANC se geledere.
