Die sogenaamde ‘landswye’ verkiesing

Ek wonder hoeveel Suid-Afrikaners bewus is van die feit dat daar op 24 September 2011 ‘n verkiesing onder “blanke” Afrikaners in die land plaasgevind het?

Die doel van die organiseerders van hierdie verkiesing, die “Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK)” [Let op die verkeerde spelling], was om o.a. “…drogredenasies, soos dat ‘ons [blanke Afrikaners] nie kan saamstaan nie en nie leiers het nie’ [te] gaan ontmasker;”.

Na die verkiesing is die verkose “volksraad” blykbaar van plan om met die huidige ANC-regering te onderhandel ten einde ‘n onafhanklike “blanke” volkstaat êrens binne die grondgebied van die huidige Suid-Afrika, in die hande te kry.

Paul Kruger van die VVK het verlede Vrydag oor Radio Pretoria verwys na tussen 30 en 40 duisend geregistreerde “kiesers”. Volgens hierdie artikel het slegs 22826 stemmers aan die verkiesing deelgeneem.

Blykbaar is daar volgens Statistiek SA 50,5 miljoen mense in Suid-Afrika waarvan ongeveer 4,5 miljoen blankes is. Dit impliseer dat slegs ongeveer 1% van Afrikaners aan die VVK verkiesing deelgeneem het!

Ek het gaan loer na die lys van kandidate wat aan die verkiesing deelgeneem het. Andries Breytenbach, die leier van die HNP, het die meeste stemme gekry. Abel Malan, tweede, was nou die dag nog in die nuus ná sy onderonsie met prof. Anton van Niekerk.

Daar is selfs ‘n Jaco Steyn wat as kandidaad deelgeneem het! Ek wil dit net graag duidelik stel dat hy beslis nie ék is nie, omdat hy o.a. as deel van sy standpunte verklaar dat “Ons [blanke Afrikaners] is nie hier geplaas om uitgemoor en onderdruk te word nie maar wel ‘n Christen-volk te wees wat ‘n voorbeeld vir die wêreld stel.”

Henk van de Graaf is ‘n Israelvisie-ondersteuner. Steyn van Ronge is tans die leier van die AWB. Hierdie verkiesing was op die ou end een van die mees patetiese pogings wat al ooit aangewend is om die witmense te laat “saamstaan”.

Miskien sal dit meer raadsaam wees indien die ou spul verregses besluit om maar liewer te wag dat God hulle eendag “verlos uit die kloue van die ANC”. Hulle sal beslis só meer sukses hê.

topcargo кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae