“Ek dink nie die Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese grondwette is dieselfde nie. Ons grondwet is baie belangrik, want dit lei ons in wat ons doen,” het Zuma gesê.
Hy het gepraat tydens ‘n sake-ontbyt in Sandton Maandagoggend, wat georganiseer is deur die New Age-koerant en die SABC.
Die ontbyt is gereël om aan die President die geleentheid te bied om die land in te lig oor die vordering wat sy administrasie sedert sy nasionale toespraak aan die begin van die jaar gemaak het.
Die grondkwessie-vraag is gevra deur Mduduzi Vilane, wat wou weet of Suid-Afrika planne het om te vermy wat in Zimbabwe gebeur het, waar grond wat aan blankes behoort, sonder vergoeding as deel van die land se program vir die herverdeling van grond afgeneem is.
Zuma het die kwessie van grondherverdeling beskryf as ‘n ernstige probleem wat aandag nodig het, en bygevoeg dat alles volgens die wet geskied.
Hy het gesê die regering kyk na die heropening van die proses vir die indiening van grondeise, want die proses was baie kort. Die afsnydatum vir die indiening van eise was Desember 1998.
