Staatsveiligheid word bedreig, sê Thula Bopela, Psira se raadsvoorsitter. Psira is die reguleringsowerheid vir die privaatveiligheidsbedryf.
Bopela meen die gebrek aan geld en personeel om dié bedryf met sy 8 828 maatskappye en 411 000 aktiewe veiligheidswagte behoorlik te reguleer, hou ‘n gevaar vir Suid-Afrikaanse burgers in.
Die verslag vir die 2010-’11-boekjaar is Maandag in die parlement ter tafel gelê.
Die verslag maan dat daar te min inspeksies gedoen word om te verseker dat veiligheidsmaatskappye aan die wetlike vereistes voldoen. Psira se 47 inspekteurs kon slegs drie uit elke vier geregistreerde veiligheidsmaatskappye besoek.
Die aantal geregistreerde, aktiewe veiligheidsmaatskappye en veiligheidswagte het sedert 2001 onderskeidelik met 61% en 111% toegeneem.
Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het in November 2010 die privaatveiligheidsbedryf as ‘n bedreiging vir staatsveiligheid getipeer omdat dit swak gereguleer word.
