Hereroskedels in Duitsland terug na Namibië

Duitsland se boetedoening aan die Jodedom kan die riglyn wees wanneer die Ovahererovolk met die Duitse regering oor reparasie aan die slagoffers van die 1904-volksmoord onderhandel.

Hoeveel die Ovahererovolk as vergoeding gaan eis en wanneer die gesprek gaan begin, wou hoofman Kuaima Riruaku nie Vrydag op ‘n mediakonferensie in Katutura bekendmaak nie. Die opperhoof van die Ovaherero het op die vooraand van die terugbring van die eerste besending skedels uit Duitland, aan joernaliste gesê die bedrag kan bepaal word deur die Joodse model as riglyn te gebruik.

Die Konferensie vir Joodse Vergoedingseise teen Duitsland (Jewish Claims Conference) het sedert die stigting daarvan in 1951 reeds miljarde Amerikaanse dollar vir slagoffers van die slagting van Jode geëis.

‘n Groep van 62 mense bestaande uit die Ovaherero Volksmoordkomitee, die Nama Tegniese Komitee en die Ovaherero/Ovambanderu Raad vir Dialoog oor die 1904-1908 Volksmoord, kerklui en aktiviste het gister saam met die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, mnr. Kazenambo Kazenambo, na Duitsland vertrek. Hulle sal Vrydag die skedels van 11 Nama- en 9 Hereroslagoffers tydens ‘n plegtigheid in Berlyn in ontvangs neem en na Namibië bring.

Hy sê as die goeie betrekkinge tussen Duitsland en Namibië oor die skedels voortduur, hy geen twyfel het “dat die gesprek binnekort sal ontwikkel om ander ewe belangrike sake ook te bespreek” nie. Hoofman Riruaku het verwys na die mosie wat hy ses jaar gelede oor die kwessie van reparasie in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê het en wat eenparig aanvaar is.

Volgens hom “is daar onsekerheid oor die lot van die mosie en is ‘n vars benadering oor die volgende fase van die proses” nou nodig. Hy het op ‘n vraag of hy die reparasiekwessie nou in Duitsland gaan aanroer, gesê “die Ovaherero kan nie die saak net daar laat nie – of dit nou deur gesprekke in camera of deur diplomatieke kanale is”.

“Duitsland het ons mense onthoof, hul skedels na Duitsland verskeep, toetse daarop gedoen en dit in museums gebêre. Nou belas hulle ons verder deur te verwag ons moet self betaal om die eerste van die skedels daar te gaan haal en terug te bring huis toe. Moet ons dit net so aanvaar?” wou een van die deelnemers aan die Facebook-debat oor die aangeleentheid weet.

Die afvaardiging keer op 4 Oktober met die skedels terug na Namibië, waarna ‘n spesiale plegtigheid volgende Woensdag by die Parlementstuine gehou sal word.

Lees die berig hier.

александр лобановский харьков

Maak 'n opvolg-bydrae