Twee mans is in Secunda in hegtenis geneem nadat hulle menslike liggaamsdele verkoop het, het die polisie in Mpumalanga Dinsdag gesê.
Die polisie het ‘n wenk ontvang en hulle as kopers voorgedoen. Hulle het die twee mans Maandag omstreeks 17:00 op ‘n pad in Secunda ontmoet, het lt. kol. Leonard Hlathi gesê.
Die mans het agt bloedbevlekte plastieksakke met menslike liggaamsdele in aan die beamptes gegee in ruil vir kontant.
“Die handelaars het gesê die dele was die plasentas van fetusse, maar ondersoeke het verklap wat werklik in die sakke was,” het Hlathi gesê.
Die mans, onderskeidelik 29 en 31 jaar oud, sal na verwagting Woensdag in die Evander-landdroshof verskyn.
