VSA kritiseer Israel

Die Amerikaanse regering het Israel se besluit om meer as duisend huise op grond in die Wesoewer te bou, skerp gekritiseer en sê dit is teenproduktief vir hernieude vredesamesprekings met die Palestyne.

Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, sê dit lyk of die besluit dit selfs nog meer onwaarskynlik maak dat die twee partye sal reageer op ‘n versoek van die Europese Unie, Rusland, die VN en Amerika om hulle vredesamesprekings binne ‘n maand te hervat.

Die nuwe huise sal in Gilo gebou word. Dit is ‘n stedelike nedersetting wat Israel opgerig het op grond wat hy in die Wesoewer verower het na die oorlog in 1967.

“Ons is diep teleurgesteld,” het Vicoria Nuland, ‘n woordvoerder vir die Amerikaanse staatsdepartement, gesê.

Sy het ook gesê dat die skuif teenstrydig is met pogings om direkte samesprekings tussen Israel en die Palestyne te hervat.

Die Palestyne het daarop aangedring dat Israel enige bouwerk in Oos-Jerusalem en die naburige Wesbank stopsit, as ‘n voorwaarde vir vredesamesprekings tussen die twee groepe.

Sedert Israel Oos-Jerusalem oorgeneem het, het hulle sowat 10 Joodse enklaves gebou om hul beheer in die gebied te vestig.

Israel se anneksering van Oos-Jerusalem is nie internasionaal erken nie.

topcargo

Maak 'n opvolg-bydrae