Altesaam 48 mense is in hegtenis geneem toe diensleweringsbetogings by die Schubartpark-woonstelle in die Pretoriase middestad handuit geruk het.
‘n Woordvoerder van die Metropolisie, Ndumiso Jaca, sê die polisie het met rubberkoeëls op die oproerige inwoners geskiet wat die geboue aan die brand gesteek het.
Betogers het bande binne die geboue aan die brand gesteek en bakstene en bottels in die straat gegooi.
Die reddingsdienste het die brand onder beheer gebring terwyl die polisie mense uit die geboue begin verwyder het. Die polisie het ook rubberkoeëls teen inwoners gebruik wat minibustaxi’s met voorwerpe bestook het.
