Nog geweld het in Zambië uitgebreek waar woedende inwoners in ‘n dorp in die noordweste van die land die polisie en verkiesingsvoertuie met stembusse op pad na ‘n telsentrum onder die klippe gesteek het.
Die voorval volg ‘n dag nadat die stemmery in ‘n nasionale verkiesing ontsier is deur oproer in verskillende woonbuurtes in Lusaka.
Inwoners in Solwezi het verkiesingsbeamptes daarvan beskuldig dat hulle probeer het om onverseëlde stembusse af te laai.
Zambië het gister sy leiers vir die volgende vyf jaar in die presidents-, parlementêre en plaaslike verkiesing gekies waarin die huidige president – Rupiah Banda – en Michael Sata mekaar gepak het.
Sata was die voorloper in meningspeilings wat deur ‘n Kanadese maatskappy gedoen is, met 54% van die stemme.
Sata se diskoers is gelaai met vreemdelinghaat en hy hou vol dat hy goeie verhoudinge met China en Indië sal uitbou. Sata is egter huiwerig om nuwe belastings op buitelandse mynmaatskappye, soos wat hy voorheen belowe het, te hef. Die kwessie is uiters gewild by Zambiese kiesers.
Zambië se ekonomie het die afgelope twee jaar met 7% gegroei agv die styging in kommoditeitspryse.
