Zuma meen Malema verdien nog ‘n kans

Pres. Jacob Zuma het gesê Malema kan steeds aan die ANC behoort indien hy die party toelaat om ‘n goeie leier van hom te maak, het The Star berig.

Zuma het gesê die ANC wil nie die leier van die ANC-jeugliga uit die openbare oog verwyder nie.

“Nee, ek dink nie dit moet die doelwit wees nie. Ek dink die doelwit is: hoe help jy Malema? Malema beskik oor baie goeie eienskappe,” het Zuma gesê.

“Wat jy moet doen, is om die dinge in Malema wat nie reg is nie, aan te spreek.”

Zuma het egter gesê indien Malema ‘n toekoms in die regerende party wil hê, sal hy reg moet optree.

“Jy kan hom nie toelaat om die verkeerde dinge te doen nie. Met ander woorde, die werk van die ANC is om Malema te help om ‘n goeie, dinamiese leier te word. Dit is wat ons moet doen. Slegs wanneer jy dit nie kan doen nie, word die vraag wat gaan ons met hom doen,” het Zuma gesê.

“Ons moet Malema help om die regte dinge te doen, want as jy Malema help om die regte dinge te doen, het jy ‘n baie goeie jong man wat dinge goed kan oordra.”

Die dissiplinêre verhoor van Malema en vyf ander beamptes van die jeugliga duur Dinsdag voort. Die verhoor is vroeër na Kliprivier in die Vaaldriehoek verskuif, nadat sake-ondernemings in die Johannesburgse middestad die ANC met die hof gedreig het oor die gewelddadige betogings tydens die eerste sessie van die dissiplinêre komitee twee weke gelede.

Malema het gister ‘n blaaskans gekry om die uitspraak in sy haatspraaksaak te bestudeer. Die Gelykheidshof het beslis dat die sing van die liedjie met die woorde “skiet die boer” neerkom op haatspraak. Die ANC het reeds aangedui dat hy teen die uitspraak gaan appelleer, wat hy as skokkend bestempel het. 

Jeugligaleiers word daarvan aangekla dat hulle die ANC in oneer gebring het en verdeeldheid in die ANC saai.

Malema het vroeër vandeesmaand gesê het hy het planne om ‘n “bevelspan” saam te stel om weerstand te organiseer teen die president van Botswana, Ian Khama, se bewind.

Фильчаков прокуратура харьков

Maak 'n opvolg-bydrae