Terwyl PRAAG die bevinding van regter Lamont verwelkom dat Julius Malema se liedere wel haatspraak verteenwoordig, het die Pro-Afrikaanse Aksiegroep teen enige voortydige vreugde oor die uitspraak gewaarsku. “Suid-Afrika beskik oor ‘n lang tradisie van Afrikanerhaat wat op verskillende maniere manifesteer. Mnr. Malema se uitdagende oproepe tot Afrikanervolksmoord verteenwoordig bloot die simptoom van ‘n dieperliggende siekte binne die Afro-Saksiese identiteit wat daarmee saamval om ‘n sogenaamde ‘Suid-Afrikaner’ te wees,” het die leier van die Afrikanergroep, dr. Dan Roodt, gesê.
PRAAG beskou die sing van anti-Afrikaner- en anti-Boereliedere deur radikale ANC-jeugligalede “as bloot die jongste uitdrukking van ‘n lang tradisie van Afrikanerhaat wat na die vervloë dae van Britse kolonialisme terug te voer is. Die gedagte dat Afrikaners die letsels dra van uitgeworpe te wees vanuit sowel Europa as Afrika, is algemeen en word dikwels in Suid-Afrikaanse Engels uitgedruk. Trouens, mnr. Malema se vertoning van Afrikanerhaat word heimelik geniet deur diegene wat steeds die feit betreur dat Brittanje nie ‘die taak voltooi het’ in 1902 nie en Boerekinders en -vroue toegelaat het om te oorleef, in weerwil van ‘n gruwelike volksmoord wat destyds teen hulle gepleeg is. In ‘n sekere sin is mnr. Malema die produk van die toenemende verengelsing en ver-Afro-Saksering van Suid-Afrika, ‘n proses wat so ywerig deur die vorige ministe van opvoeding, Kader Asmal, voortgestu is. Asmal het insgelyks Afrikaners en Afrikaans verafsku.”
In weerwil van die positiewe uitkoms van die hofsaak, is PRAAG pessimisties oor die toekomstige moontlikhede van etniese saambestaan in Suid-Afrika. Volgens dr. Dan Roodt, “moet hierdie gebeurtenis as ‘n klein oorwinninkie op die pad van Afrikaner-emansipasie van die geweld, onrede, korrupsie en diskriminasie van die sogenaamde ‘nuwe Suid-Afrika’, wat slegs in naam demokraties is, gesien word. Suid-Afrika is ‘n land vol haat wat in die gruweldade van plaasmoorde manifesteer, maar ook in die onderdrukking van Afrikaans en die Afrikaneridentiteit deur die Afro-Saksiese staat.”
PRAAG het ‘n beroep op alle Afrikaners gedoen om deel van die stryd vir ‘n durende vryheid, veiligheid en vrede te word. “Mnr. Malema, soos vele ander, het ons waardigheid en menslikheid vertrap. In die woorde van regter Lamont, het hy ons verontmenslik, wat ‘n stap onderweg na volksmoord verteenwoordig,” het dr. Roodt gesê. “Soos die mense van Kosovo en vele ander wat aan etniese haat en onophoudelike propaganda onderwerp is, sal Afrikaners slegs veilig wees in ‘n land en ‘n republiek van hul eie.”
Roodt het ook teen “die masochistiese neigings van sommige Afrikaners”, soos die skrywer André P. Brink, te velde getrek. Brink het gister op SABC1 verklaar dat “hy aan ‘n volk behoort wat uitsterwing verdien” en dat hy “oor ‘n vreemde lus om gewelddadig te sterf” beskik. Vele Afrikaners ly reeds aan die Stockholm-sindroom, waardeur hulle met hul verdrukkers, hul folteraars en laksmanne identifiseer.
“Ons moet haatspraak en propaganda verwerp, maar ook hierdie tipe veragtelike en skuldbelaaide angs oor ‘n mens se eie identiteit. Brink en ander het die logika van Afrikanerhaat verinnerlik. Julius Malema is makliker om te hanteer en minder skadelik as André P. Brink se uitdrukkings van selfhaat,” het Roodt afgesluit.
