Israel is die pas afgelope naweek gedwing om die ambassadeur en die meeste van sy diplomatieke personeel van Kaïro te ontruim nadat honderde Egiptiese betogers ‘n veiligheidsmuur ter beskerming van die Nyl-oewerambassade afgebreek het, lêers geplunder het en ‘n Israeliese vlag verbrand het.
Dit kom minder as ‘n week nadat Turkye, Israel se ander groot bondgenoot in die Moslemwêreld, aangekondig het dat hulle die Israeliese ambassadeur sal uitsit en die twee lande se verhouding tot die laagste moontlike vlak sal afgradeer ná die dodelike skermutseling met ‘n Turkse vaartuig wat hulp aan die beleerde Gasagebied wou bring.
‘n Ander potensiële penarie broei later hierdie maand wanneer die Palestyne na verwagting om lidmaatskap by die VN sal aandring as selfstandige staat.
Die skade aan verhoudings met Egipte en Turkye het baie Israeli’s getref. Turkye was die eerste Moslemland wat Israel as ‘n Joodse staat in 1949 erken het en Egipte was die eerste Arabiese land wat ‘n vredesverdrag met Israel in 1979 gesluit het.
Israeliese eerste minister Benjamin Netanyahu was vinnig om die aanval op die Israeliese ambassade in Kaïro te veroordeel, maar het ewe vinnig bygevoeg dat die historiese vredesooreenkoms tussen Israel en Egipte nog ongeskonde bly.
Die beeld van die brandende vlag is prominent op Israeliese televisie vertoon, met verskeie kommentators wat gevra het of dit die laaste Israeliese vlag ooit in Egipte sal wees.
Op Israel se Kanaal Twee-nuus, het die nuusleser die Saterdagaanduitsending afgesluit deur te vra of Israel nou oplaas “alleen, sonder ‘n vriend in die streek” is.
Netanyahu en die minister van buitelandse sake, Avigdor Lieberman is verdeeld oor hoe om die groeiende isolasie die hoof te bied.
Onder Lieberman se aanvoering, het die ministerie van buitelandse sake begin met die opstel van ‘n lys van “strawwe” vir Turkye. Intussen, het Netanyahu se kantoor oproepe vir selfbeheersing gedoen en ‘n afskaling van die vyandelikhede tussen die twee lande bepleit.
Turkse amptenare het gesê dat die verhouding met Israel nie sal verbeter totdat Israel om verskoning vra vir die moorde verlede jaar van nege Turkse onderdane aanboord van die Turkse Mavi Marmara-skip wat deur die Israeli-vlootkommando’s bestorm is nie.
Amerikaanse amptenare het onsuksesvol probeer om ‘n verskoning van Israel aan Turkye te onderhandel oor die voorval.
Verskeie Europese lande het te kenne gegee dat hulle bereid is om te stem ten gunste van die Palestynse staat, om Israel in ‘n moeilike posisie te plaas.
Palestynse wetgever Hanan Ashrawi, wat sal help met die bekendstelling van die bod by die VN, het gesê: “Ons sal vorentoe gaan ten spyte van die dreigemente van Israel en sy bondgenote. Wanneer die stemming gebeur, sal Israel sien hoe geïsoleerd hy werklik is.” Sy het bygevoeg dat die Verenigde State, Israel se belangrikste bondgenoot, “skaam” gaan kry.
“Ek dink die Verenigde State is keer op keer weer gewaarsku – deur sy eie mense – dat sy vennootskap met Israel nie nou in sy beste belang sal wees nie,” het sy gesê. “Maar hulle gaan voort om by Israel te staan, en ignoreer die veranderinge in die streek wat die Arabiese lente gebring het.”
