“Ons kameraad Qinisani Gwala is gisternag deur die polisie binne sy huis doodgeskiet. Ons veroordeel die voorval,” het Thulani Mashaba, ANC-voorsitter van die Noordkus-streek, Sondag gesê.
Hy het gesê Gwala was lank die voorsitter van dié ANCJL-tak.
“Hy was by ‘n sitting van ‘n tradisionele hof toe hy deur die polisie weggeneem is. Hulle het hom na sy huis geneem, waar hy doodgeskiet is,” het Mashaba gesê.
Hy kon nie verstaan waarom Gwala geskiet is nie, aangesien hy volgens Mashaba met die polisie saamgewerk het toe hulle hom weggeneem het.
Dir. Phindile Radebe, polisiewoordvoerder, het gesê Gwala was ‘n hoofverdagte in ‘n saak van moord en poging tot moord, wat in Augustus vanjaar plaasgevind het.
“Ons beamptes het hom gesoek vir die moord en poging tot moord wat in Nyoni plaasgevind het,” het sy gesê.
Volgens Radebe het die polisie twee ongelisensieerde vuurwapens by Gwala gevind.
“Hy is geskiet nadat hy op die polisie geskiet het.”
Volgens Mashaba is Gwala van sy broer verwyder voordat hy geskiet is.
“Hulle het hulle in verskillende huise gesit. Ons verstaan werklik nie waarom hy doodgemaak is nie.”
