Regter Mogoeng Mogoeng sal as Suid–Afrika se hoofregter dien, aangesien die meerderheid (16 teenoor 7) van die Regterlike Dienskommissie (RDK) se 23 lede hul steun aan hom toegesê het.
Hy is die enigste kandidaat vir die pos van hoofregter nadat hy deur pres. Zuma benoem is om regter Sandile Ngcobo te vervang wat in Julie aangekondig het hy sal nie aanbly in sy pos ná die verstryking van sy termyn nie.
Zuma het Ngcobo versoek om nie weer as hoofregter te dien nie.
Mogoeng het dié naweek voor lede van die RDK verskyn wat hom oor sy benoeming uitgevra het en dit het geblyk dat hy sterk steun van veral ANC-lede in die RDK geniet. Die meeste van die kommissarisse is ANC-ondersteuners.
Koos van der Merwe van die IVP, het Mogoeng versoek om hom aan die proses te onttrek tot die ontsteltenis van die paneel. Jeff Radebe, minister van justisie, het Van der Merwe berispe en adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke, RDK-voorsitter, het dié versoek buite orde gereël.
Mogoeng het in reaksie gesê:”Ek het ‘n teken gekry dat dit die regte ding is. Ek dink God wil hê ek moet die hoofregter wees.”
Die DA is fel gekant teen Mogoeng se aanstelling. Kritici het sy “patriargale ingesteldheid”, gebrekkige etiese waardes en “onsensitiwiteit” teenoor vroueregte uitgelig as redes waarom hy nie moet dien nie.
“Dank die Here ek kon my saak stel. Noudat almal dit weet, kan ek sê: Moenie geskok wees nie, kalmeer en vat dit rustig. Dit (die besware) is nie so erg as wat dit lyk nie, julle het julle misgis,” het Mogoeng gesê toe adv. Hendrik Schmidt (DA) teen Mogoeng uitgevaar het.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.