Malema se klag teen tugbeamptes verwerp

Die ANC se dissiplinêre komitee het ‘n aansoek verwerp wat deur Julius Malema, president van die ANC-Jeugliga, gebring is teen drie van die tugkomiteelede, het ‘n woordvoerder Woensdag gesê.

Die komitee het bevind dat onvoldoende feite voorgelê is om vooroordeel of ‘n persepsie van vooroordeel wat bestaan, by Derek Hanekom, voorsitter, Susan Shabangu, minister van minerale bronne, en Collins Chabane, minister in die presidensie, te bewys, het Jackson Mthembu, ANC-woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

Hy het gesê die dissiplinêre verhoor is tot Vrydag uitgestel om die komitee kans te gee om te besluit oor Malema se aansoek vir die klagtes om teruggetrek te word.

Die komitee sal sy besluit Vrydag om 09:00 bekend maak.

Malema word dissiplinêr verhoor nadat hy daarvan aangekla is dat hy die ANC se naam in oneer gebring en onmin in die ANC gesaai het.

Hy het onlangs gesê die ANC-Jeugliga sal ‘n span na Botswana stuur om plaaslike opposisiepartye te konsolideer en ‘n bewindverandering te help bewerkstellig, aangesien geglo is die regering in Botswana “is in volle samewerking met imperialiste” en “ondermyn die Afrika-agenda”.

Benewens Malema word Floyd Shivambu, ANCYL-woordvoerder, Ronald Lamola, adjunk-president, Pule Mabe, tesourier-generaal, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, en Kenetswe Masenogi, adjunk-sekretaris-generaal, aangekla.

Almal behalwe Shivambu sal Vrydag voor die komitee verskyn, het Mthembu gesê. Sy dissiplinêre verhoor is tot ‘n latere datum uitgestel.

Shivambu het Woensdag gesê Malema sal met sy regsverteenwoordigers in gesprek tree voor sy volgende verskyning.

Groepe jeugdigdes wat Malema ondersteun het Dinsdag klippe, bottels en bakstene na joernaliste en polisiebeamptes in die Johannesburgse middestad geslinger.

Die geweld het bedaar nadat Malema hulle toegespreek het.

‘n Klein groep ondersteuners het Woensdag deur die strate rondom Luthuli-huis, waar die verhoor gehou word, gemarsjeer.

Hulle het gefluit, op vuvuzelas geblaas en “voetsek” aan polisiebeamptes geskree.

лобановский александр отзывы

Maak 'n opvolg-bydrae