Die oproerigheid het saamgeval met Julius Malema, omstrede leier van die ANC-jeugliga (ANCYL), se dissiplinêre verhoor in die ANC se hoofkwartiere, Luthuli-huis.
“Ons het nog nie enigiemand in hegtenis geneem nie,” het lt.kol. Lungelo Dlamini Woensdag gesê.
Hy sê die polisie het ‘n ondersoek geloods wat ‘n studie van beskikbare kringtelevisie-beeldmateriaal insluit.
Strate in Johannesburg, soos President- en Sauerstraat, is afgesper aangesien groot groepe jeugdiges na Luthuli-huis opgeruk het om Malema te ondersteun.
‘n Polisieman het steke gekry nadat hy deur ‘n klip getref is en minstens sewe joernaliste is met voorwerpe gegooi. Sekere vroulike joernaliste het bygevoeg dat jeugdiges hulle betas het en seksuele dreigemente gemaak het.
Wayne Minnaar, woordvoerder vir die metropolisie, sê ‘n man is in hegtenis geneem toe hy ‘n vullisdrom omgegooi het, maar volgens Dlamini is niemand vasgetrek ná Dinsdag se gebeure nie.
Die polisie het ‘n saak van openbare geweld en poging tot moord oopgemaak. Joernaliste is ook genader om verklarings by die polisie af te lê.
Ondersteuners het Woensdag weer buite Luthuli-huis saamgedrom om Malema, wat weer voor ‘n tugkomitee sal verskyn, te ondersteun.
Hy het Dinsdag ná sy verskyning ‘n beroep op sy ondersteuners gedoen om nie polisielede of joernaliste aan te val nie.
