Duisende Malema-ondersteuners sak op Johannesburg toe

Duisende ondersteuners van die ANC-jeugliga het Dinsdagoggend deur die Johannesburgse middestad gehardloop en motoriste is in chaotiese verkeer vasgekeer.

Motoriste is van die pad gedwing en talle het omgedraai om nie in die swart mensegolf vasgevang te wees nie.

ANC-jeugliga-ondersteuners is deur die polisie met traanrook bestook en die polisie moes rubberkoeëls gebruik om op opstandige protesgangers  te skiet en te keer dat hulle by geboue in die middestad inbreek.

Die polisie probeer tans die groeiende skare in bedwang hou met lemmetjiesdraadversperrings, maar oproerige Malema-ondersteuners beur vorentoe, en bestook die polisie en media met klippe en bottels.

Die situasie by Luthulihuis waar mnr. Julius Malema vanoggend om 10:00 verhoor word, is tans uiters gespanne.

“Die getalle groei aan,” het Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, gesê.

Minnaar het motoriste gewaarsku dat verskeie paaie in die stad gesluit is.

Sauerstraat is by Markstraat afgesper, Simmondsstraat is by Pritchardstraat afgesper en Harrisonstraat is by Pritchardstraat afgesper.

‘n Groep ondersteuners van die ANC-jeugliga het ‘n nagwaak buite Luthuli-huis gehou ter ondersteuning van Malema en sy medebeskuldigdes.

Malema word saam met Floyd Shivambu, Ronald Lamola, Sindiso Magaqa, Kenetswe Mosenogi en Pule Mabe aangekla. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die ANC in oneer bring en verdeeldheid saai in dié party.

Александр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae