Zuma is deur koning Harald V uitgenooi om Noorweë te besoek.
Die staatsbesoek sal vanaf 31 Augustus tot 1 September duur.
Suid-Afrika en Noorweë het ‘n spesiale en unieke verhouding weens die Europese land se ondersteuning van die Suid-Afrikaanse struggle.
Noorweë was ‘n belangrike bydraer – finansieel en prakties – in die stryd teen apartheid.
Zuma se besoek kom terwyl die Johannesburgse metropolisie voorbereidings tref vir Julius Malema, ANC-jeugleier, se dissiplinêre verhoor.
Die polisie het reeds strate begin sluit vir Malema se verhoor, wat Dinsdag afskop.
Lede van die ANC-Jeugliga het Maandagaand op Vuvuzelas geblaas en in die strate van Johannesburg gedans ter ondersteuning van die liga se president, Julius Malema.
“Die lafaards is bang, ons moet skiet… skiet met ‘n geweer,” het meer as 70 ANCYL-lede gesing soos hulle na die ANC se hoofkwartier, Luthuli-huis, gemarsjeer het.
Sommige het plakkate gedra wat teen alles van kapitalisme en Vodacom tot Botswana se president, Ian Khama, uitgevaar het.
“Ons sê nee vir ‘n militêre basis op ons kontinent wat onder Amerika se beheer is. Ian Khama – die pop – ‘n belediging vir Afrika. Viva Julius Malema,” het een plakkaat gelees.
Die groep het ‘n Vodacom-t-hemp gebrand en rondom dit gedans.
“Ons moet gedissiplineerd wees,” het een van die lede gesê toe die groep verkeer by ‘n verkeerslig geblokkeer het.
Die ANC het verlede week aangekondig Malema en Floyd Shivambu, woordvoerder van die liga, sal dissiplinêr verhoor word en daarvan aangekla word dat hulle onmin in die party gesaai het en die party se naam in oneer gebring het.
Malema het onlangs gesê die ANCYL sal ‘n span na Botswana stuur om opposisiepartye te konsolideer en te help om ‘n bewindverandering mee te bring, aangesien geglo is die regering in dié land is “in volle samewerking met imperialiste” en ondermyn die “Afrika-agenda”.
Meer as 200 polisiebeamptes was Maandagaand by Luthuli-huis ontplooi.
Paaie na die gebou is vir verkeer gesluit om plek te maak vir die ANCYL-ondersteuners.
Die verhoor sal Dinsdag en Woensdag plaasvind.
Die polisie buite Luthuli-huis het gesê paaie sal Maandagnag en moontlik die hele Dinsdag gesluit wees.
