Die VN se Veiligheidsraad het Donderdag ‘n ooreenkoms bereik om $1,5 miljard se gevriesde Libiese bates as noodfondse aan die rebellemagte in dié land beskikbaar te stel, nadat Amerika en Suid-Afrika ‘n dispuut oor die geld bygelê het.
Die uiteindelike skikking beteken Amerika sal nie vra dat daar binne die Veiligheidsraad gestem word om die fondse vry te stel nie.
“Daar is nou eenstemmigheid, daar sal nie gestem word nie,” het ‘n diplomaat na aan die samesprekinge aan AFP gesê.
Suid-Afrika het dié skuif deur die VN meer as twee weke lank geblokkeer omdat die beskikbaarstelling van fondse aan die rebellebeweging sal impliseer dat die Nasionale Oorgangsraad (NOR) in Libië herken word.
Nie Suid-Afrika of die Afrika-Unie het al amptelik die Libiese rebelle-opposisie, wat reeds groot dele van Tripoli beset, amptelik erken nie.
