“Dié wat die mag het om bomaanvalle op ander lande uit te voer, het die AU se pogings en stappe ondermyn om die situasie in Libië te hanteer,” het Zuma tydens ‘n mediakonferensie by Tuynhuys gesê ná ‘n vergadering met die President van Ghana, John Atta Mills.
“Die situasie in Libië is ‘n bron van kommer, aangesien dit gepaard gaan met die ondermyning van die Afrika-kontinent se rol in die vind van ‘n oplossing.
“Ons kon die verlies van baie lewens in Libië verhoed het.”
Zuma het gesê magtige nasies het die Verenigde Nasies Veiligheidsraad se 1973-resolusie misbruik “om belange te bevorder wat nié die beskerming van burgerlikes en bystand aan die mense van Libië is nie”.
Libiese rebelle het verklaar dat die era van Moeammar Gaddafi verby is nadat hulle die hoofstad, Tripoli, oor die naweek bestorm het.
Een van Gaddafi se seuns het egter beklemtoon die stryd om die land sal voortduur.
Die AU se Veiligheidsraad sal Donderdag en Vrydag vergader om die situasie in Libië te bespreek, het Zuma gesê.
“Ons sal kyk na die situasie en optree, maar dit keer nie individuele lande om besluite te neem nie.
“Die AU se posisie is die mees logiese. Daar is steeds ruimte vir dié posisie in die huidige situasie.”
Die toekoms van Libië moet deur die land se mense beslis word, het Zuma gesê. “Moenie van die AU verwag om wapens op te neem en te veg nie.”
