Direksielede van die SAUK wat voor die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie verskyn het, moes verslag doen oor die herstruktureringsproses by dié organisasie.
Verteenwoordigers van die tesourie het verlede week ‘n aansoek van die SAUK ontvang vir finansiering van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk.
Dit beloop R384 miljoen vir 2012, R2,02 miljard in 2012-’13 en R4,5 miljard in 2013-’14.
Dr. Ben Ngubane, die SAUK-voorsitter, sê die geld is nie ‘n hulppakket nie, maar gaan vir herkapitalisasie aangewend word. Ngubane het ook gewaarsku dat die SAUK nog heelwat personeel gaan afdank.
Avril Halstead, direkteur by nasionale tesourie, het gesê: “Dit is kommerwekkend dat die SAUK se toekoms bykans ten volle afhang van verdere geldelike bystand.”
“As die SAUK nie die geld kry nie, sal hy oor die volgende drie jaar elke jaar ‘n verlies maak,” het sy gesê. Die uitsaaier is ook gekritiseer vir ‘n onvoldoende sakeplan.
Die SAUK wil die geld gebruik vir ‘n nuwe sportkanaal, ‘n 24 uur nuuskanaal, sowel as die finansiering van sy oorskakeling na digitale media (DTT).
Die SAUK sal glo ook tot R287 miljoen bespaar deur personeeluitdiensstellings, waar groot bedrae geld uitbetaal word aan personeel om die SAUK te verlaat.
