Jackson Mthembu, die ANC se woordvoerder, het hom gedistansieer van Malema se uitsprake dat die AU en SAOG van sy agenda afwyk vandat Mbeki nie meer president is nie en dat die twee organisasies se invloed minder raak.
Die jeugliga het Sondag gesê Mbeki en die AU het Irak bygestaan toe dié land deur “imperialistiese magte” ingeval is.
Malema het die regerende Botswana Demokratiese Party (BDP) as ‘n “afspringplek vir imperialisme, ‘n veiligheidsrisiko vir Afrika en ‘n marionet van Amerika” beskryf.
Malema se kritiek teen pres. Ian Khama spreek van minagting en hou ‘n bedreiging vir stabiliteit in het Mthembu gesê. Dit is ‘n “duidelike demonstrasie dat swak dissipline in die ANC-jeugliga nou ver verby sy perke gegaan het”.
Volgens Mthembu is dit nie deel van die ANC se kultuur om buurlande te destabiliseer nie.
Die ANC se grondwet stel dit duidelik dat die jeugliga as ‘n outonome, en nie onafhanklike nie, liggaam binne die oorhoofse struktuur van die ANC geplaas is.
“In teenstelling met die jeugliga se waarnemings is die AU en SAOG aan die voorpunt van vrede in Afrika en pogings om veiligheid te verseker van Zimbabwe en Madagaskar tot in Somalië en die Soedan, asook Libië en die Ivoorkus,” het Mthembu gesê.
