By die sien van beeldmateriaal oor die ontploffing by die regeringskantore in Oslo, het dit herinneringe van soortgelyke tonele opgeroep van die Kerkstraatbom wat op 20 Mei 1983 in Pretoria ontplof het en waartydens negentien mense dood en 219 beseer is. Daardie bom was deur die ANC geplaas. Nou word Breivik as ‘n regse ekstremis gebrandmerk en natuurlik gebruik die ANC staatshoof Jacob Zuma dit ook om weer te wys op ‘n vermeende regse gevaar. Vergete is skielik die soortgelyke gruweldade wat hulle self as terroriste gepleeg het.
Breivik word in Noorweë verbind aan ‘n politieke party wat as liberaal-nasionaal beskou word. Dit is nie regs nie en ook nie ekstreem nie. Self het Breivik ‘n soort beleidsverklaring van sowat duisend vyfhonderd bladsye op die internet geplaas. Daarin het hy baie gebruik gemaak van standpunte wat regse groepe vanoor die wêreld op die internet geplaas het. Daar is ook ‘n stuk in van ‘n Suid-Afrikaanse groep wat praat oor die onderdrukking van die blankes deur die Marxistiese ANC-bewind.
Duidelik is Breivik dus iemand wat ook oorlog teen die Marxisme en kommunisme voer, bo en behalwe die feit dat hy ook die gevaar van Moslem-instroming en Islam-oorname ingesien het. Of die metode wat hy gevolg het om sy saak kenbaar te maak die aanvaarbare een is, is ‘n ander saak. Tog het hy regeringsgeboue geteiken, net soos die ANC destyds met die Kerkstraatbom, maar dit is natuurlik so dat burgerlikes ook slagoffers word. Breivik het daarna na ‘n eiland gegaan waar ‘n kamp gehou is van vreemdelinge wat hulle in Noorweë gevestig het, meestal Moslems. Die Noorse eerste minister sou skynbaar by daardie kamp besoek gaan aflê het om die nuwe immigrante welkom te heet aan Noorweë.
Nasionalisitese groepe regoor Europa voer al dekadeslank ‘n stryd teen die Islamisering van Europa, soos dit gestel word. Dit is nou reeds ‘n bekende feit dat die invloei in Europa vanuit Arabiese en Afrika-lande, saam met die geweldige natuurlike aanteel onder die mense, daartoe gaan lei dat verskeie van die lande se inheemse bevolking binne die volgende twee dekades in die minderheid kan wees. Dit is ook so dat terwyl die immigrante nou nog die minderheid van die bevolking uitmaak, hulle in die meeste lande die meerderheid van die tronkbevolking uitmaak. Dit beteken dus dat hulle die draers van misdaad is.
Geen wonder dus dat die inheemse bevolkings wat nie glo aan die politieke korrektheid teenoor die immer eisende Afrika en sekere Arabiese lande nie, bekommerd word oor die steeds voortdurende immigrantestroom. Dan word die vraag gevra hoe erg ‘n situasie moet wees, en hoe erg die media-stilswye oor kwessies soos dié moet wees, dat ‘n man geen ander manier sien om sy kommer kenbaar te maak as om dit op so ‘n gewelddadige en onaanvaarbare wyse te doen nie?
Dat daar ‘n verdere vraagteken hang oor die reg tot inligting, selfs in ‘n beskaafde land soos Noorweë, blyk uit die feit dat Breivik se hofverskyning agter geslote deure gehou is, sogenaamd om hom geen platform te gee om, soos dit gestel word, sy “verderflike oortuigings” in ‘n ope hof te uiter en dit sodoende by ‘n groter gehoor uit te bring nie. Dit is geen goeie teken nie en druis in teen alle beginsels van juridiese deursigtigheid wat wêreldwyd geld.
Ook Suid-Afrika sit met ‘n immigrasieprobleem. Net gister het honderde immigrante mekaar verdring by die Marabastad-kantoor van Binnelandse Sake. Daardie mense gaan ook weer eise stel vir kos, water, huise, werk en sosiale ondersteuning.
Professor André Thomashausen van Unisa se waarskuwing dat soortgelyke situasies in Suid-Afrika ontstaan as Afrikanermans sou knak en dieselfde doen, is egter vergesog.
Jong Afrikanermans hou hulleself besig met positiewe vryheidsbenaderings, in ‘n toekomstige land waar immigrasie streng beheer sal word. Maar dalk moet die regering na sy eie mense kyk wat ook nie gediend is met onbelemmerde immigrante-instroming in die land nie. Die gevaar lê eerder daar: nie by Afrikanermans nie.
