Anders Behring Breivik, verdagte in die Noorweegse moordaanvalle, se regsverteenwoordiger, Geir Lippestad, sê sy kliënt het ‘n soort dwelm gebruik voor die aanvalle waarin 76 mense dood is.
Hy sê die dwelm was veronderstel om hom sterk en wakker te hou. Breivik was glo “baie moeg” ná die aanvalle.
Breivik was ook glo “‘n klein bietjie verbaas” dat hy die aanvalle uitgevoer het, het Lippestad gesê. Hy was verbaas dat dit “geslaag het, in sy gedagtes geslaag het.”
Breivik, se prokureur het hom hom as ‘n koue, paranoïese “krygsman” wat in alle waarskynlikheid kranksinnig is, beskryf.
“Dit wil voorkom of hy kranksinnig is,” het Geir Lippestad oor Breivik gesê.
Breivik het verantwoordelikheid vir verlede week se bomaanval in Oslo, sowel as die daaropvolgende skietery by ‘n jeugkamp op Utoya-eiland, aanvaar, maar pleit steeds onskuldig.
“Hy glo dat hy in ‘n oorlog betrokke is en dat sy dade daarvolgens geregverdig is,” het die prokureur van die 32-jarige Noor gesê.
Breivik se doelstelling was om ‘n anti-Moslem-rewolusie te begin.
“Hy lewe in sy eie wêreld,” het Lippestad bygevoeg en gesê dit was vir hom as prokureur baie moeilik om die saak aan te vat.
Breivik se prokureur wil moontlik hê sy kliënt moet as ‘n kranksinnige verhoor word.
Dit sal beteken dat hy nié sy vonnis in ‘n standaard gevangenis sal uitdien nie.
“Breivik het ‘n lewensuitkyk wat baie, baie moeilik is om te verduidelik,” het die prokureur gesê.
Breivik se prokureur het gesê sy kliënt se eetlus is normaal, maar dat hy hom allermins nie as “gelukkig” kan beskryf nie.
