‘n Skare plakkers het ‘n jong man Donderdag doodgeslaan nadat hy na bewering by ‘n huis in Orange Farm ingebreek het, het die polisie gesê.
Volgens kapt. Johannes Motsiri het ‘n buurman die 19-jarige swartman betrap toe hy ‘n huis verlaat het waarby hy ingebreek het.
“Hy het glo die gesteelde goedere in ‘n asblik gesit wat hy by die huis geneem het. Hy het ‘n televisiestel, ‘n DVD-speler, ‘n klankversterker en ‘n mikrogolfoond gesteel,” het Motsiri gesê.
Die buurman het ander inwoners van die inbraak in kennis gestel. Hulle het hom agtervolg en doodgeslaan.
Volgens Motsiri is die polisie deur die eienaar van die huis geskakel, nadat die man reeds doodgeslaan is.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
