Die VF Plus het in die verlede reeds sy kommer uitgespreek oor die feit dat eiendomsbelasting gehef word op beide die waarde van die grond asook die verbeterings daarop aangebring. Eienaars van verbeterde eiendom het reeds inkomstebelasting aan die SAID betaal op die geld wat aangewend word om die eiendom aan te koop en te verbeter. Boonop is belasting op toegevoegde waarde (BTW) reeds aan diensverskaffers oorbetaal.
Indien ‘n verdere belasting op verbeterings, waarop daar reeds belasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens betaal is, dan deur hierdie beoogde wetgewing ingevoer word, sou dit op niks anders neerkom as ‘n welvaartsbelasting wat in terme van die Suid-Afrikaanse grondwet ontoelaatbaar is nie.
“Dit het tyd geword dat die Suid-Afrikaanse regering vir eens en altyd in die bek geruk word met sy volgehoue pogings om die aandag af te lei van die werklike rede waarom swak dienslewering in Suid-Afrika plaasvind,” het Mulder gesê.
Dienslewering in plaaslike owerhede sal verbeter sodra kundige en bevoegde amptenare aangestel word om munisipaliteite te bestuur. Die blote hef van meer belasting gaan niks help nie.
Die VF Plus loods binne die volgende dae ‘n webwerf waar die publiek deur middel van ‘n petisie hul misnoeë oor die beoogde wysigingswet kan lig. Die VF Plus spreek die hoop uit dat die reaksie en weerstand van grondeienaars oorweldigend soos ‘n vloedgolf oor die beoogde wetswysiging sal stroom
