Dis die parfúúm van revolusie, Max

Dan Roodt

Beste Max, Mugu of wat ek jou ook al moet noem,

Jy het seker nie beswaar dat ek op die apartheidstaal vir jou skryf nie, of moet dit liewer in Ingels wees? Jy is mos so trots op jou Ingels; net jammer jy het nooit uit die Britse invloedsfeer ontsnap en ‘n bietjie in Europa gaan kuier soos omtrent elke Afrikaanse skrywer van betekenis deur al die jare gedoen het nie.

In elk geval, ek het amper van my bed af geval – met die skoolvakansie deesdae staan ek laat op, hoewel ek steeds baie vroeg wakker en op my skootrekenaar aan die gang is – toe ek jou The sickening smell ‘revolution’ lees ná Steve Hofmeyr se hertwiet daarvan op Twitter.

Nee wat, Max, dis nou te laat. In my prille jeug het ek mos ‘n gediggie aan Nadine Gordimer in my digbundel Kommas uit ‘n boomzol opgedra waarin ek dit het oor “chic-radikaal”. Het jy al ooit Tom Wolfe se Radical chic and mau-mauing the flak catchers gelees? Nie dat jy ‘n danige leser is nie, behalwe nou van jou eie slimstories in die Broederbond se propagandakanaal, die magtige Naspes of Nazi-pers wat ons daagliks verpes en verguis. Ek meen Tom Wolfe het die term “chic-radikaal” gemunt.

Nou die dag het die Business Day ‘n brief van my geplaas wat ek ietwat bygewerk het vir ons Engelse webwerf, onder die titel Rise of the Left spells disaster for South Africa.

Hierdie land smag na revolusie. Ek weet dit en jy weet dit. Richard M. Weaver het mos gesê: Ideas have consequences. Dertig, veertig jaar al grawe ons in die ou visbalies van Rusland, Kuba, die China van die kulturele revolusie, Kwame Nkroema en so meer. Om nie van die eksteem-linkse Amerikaanse akademici, die sogenaamde tenured radicals, se rare rasseteorieë en fanatiese geloof in regstellende aksie te vergeet nie. So pas het hulle nog ‘n hofsaak teen die gewone mense van Michigan-staat gewen sodat hulle nou weer lustig teen blankes aan die universiteite kan begin diskrimineer, nes in Suid-Afrika waar ons hulle beleid klakkeloos toepas.

Jy en jou mede-chic-radikales onder die simpel ou Engelse waarmee ek by Wits saam gestudeer het, het die saad gesaai, het die geweer gelaai. Of liewer, al 500 000 outomatiese wapens in die magasyne wat FW in sy wysheid aan Umkhonto we Sizwe oorgedra het! En wat Malema en sy kindersoldate binnekort gaan begin uithaal en olie. Hy wil mos hoeka al “diensplig vir werklose jongmense” instel… Dit gaan ‘n aardige affêre wees, want ons weet mos hoe revolusie en oorlog in Afrika werk, sonder genade.

Dis nie die stank van revolusie nie, Max, dis die parfuum. Synde ‘n Franse leenwoord, nogal manlik, le parfum. Nou weet ons almal ook Frans, anders as jou polities korrekte Engels, is ‘n seksistiese taal.

Wat sê hulle, Vive la révolution? Maar die ANC en veral die Jeugliga van Mandela, Mokaba en nou Malema verkies mos Spaans of Portugees; ek dink nie hulle weet self nie, want vreemde tale is nie ‘n sterk punt van die ontslape Kader Asmal se nuwe uitkoms-gebaseerde Bantoe-onderwys nie, nie waar nie?

Dus miskien eerder, saam met Ché op Spaans:

¡Viva la Revolución!

Almal nou in een koor met Juju en Winnie, vuiste gebal: Viva!

возможно ли обмануть полиграфФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae