Dit is die tweede hofsaak waarin die voormalige leier aangekla word. Dit sou verlede week reeds plaasgevind het maar is uitgestel weens ‘n staking van regters.
Ben Ali en sy vrou, Leila Trabelsi, is reeds tot 35 jaar tronkstraf gevonnis vir wanbesteding van openbare fondse nadat die polisie groot bedrae geld en juwele in hulle paleis gevind het.
Die hofsaak het in die egpaar se afwesigheid geskied nadat hulle in Januarie na Saoedi-Arabië gevlug het.
Ben Ali is daarvan beskuldig dat hy dwelms en wapens in sy paleis in die Carthage-omgewing geberg het. Hy staar ook aanklagte van dwelmhandel in die gesig.
Hosni Beji, sy regsverteenwoordiger, het gesê die aanklagtes in “onredelik.”
“Hoe kan jy jouself verbeel dat ‘n president 2 kg dagga sal besit met die doel om dit te verkoop?” het hy gesê.
Beji het ook gesê dat die meerderheid van die wapens wat in die paleis gekry is, geskenke van internasionale liggame is.
