Die VF Plus gaan Eskom se aansoek by NERSA vir verdere tariefverhogings teenstaan. Adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor energie, het aangedui dat in die lig van Eskom se wins en die vorige toegestaande verhogings Eskom alreeds spasie gegee is om sy huis in orde te kry.
“Eskom wil eintlik die totale verhoging wat vroeër nie toegestaan is nie nou weer opvang deur verdere verhogings oor ‘n nuwe tydperk. Dit is onaanvaarbaar en sal die ekonomie ‘n verdere knou toedien. Die nuwe kragtarief-verhogings saam met die toltariewe in Gauteng sal soos ‘n hartaanval vir ons ekonomie wees.”
Enige verdere verhogings sal die armstes die hardste tref en daarom sal die regering moet ingryp in die bestuur van Eskom se finansies sonder dat die kragverbruiker of belastingbetaler verder belas word.
