Die VF Plus het ook Suid-Afrika se amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie, gekritiseer oor hulle stilte rakende die nasionaliseringsdebat. “Dit is uiters jammer dat die party waarop meeste opposisiekiesers onlangs hulle hoop geplaas het, daardie kiesers nou faal in ‘n tyd van krisis,” het dr. Conrad Beyers, VF Plus-woordvoerder oor finansies, gesê.
Die VF Plus het gesê dat Cosatu se ondersteuning van nasionalisering van myne en banke nie in belang van Suid-Afrikaanse werkers is nie, maar suiwer ideologies-gedrewe is. Volgens die VF Plus bestaan daar sterk aanduidings dat nasionalisering van kernbedrywe eerder werkloosheid kan vererger as verbeter en daarom is dit verbasend dat Cosatu ‘n potensieel selfvernietigende standpunt inneem.
Volgens Beyers blyk dit asof Suid-Afrikaners tans in ‘n staat van ontkenning verkeer rakende nasionalisering. “Alle belanghebbendes behoort tot die besef te kom dat die vooruitsig van nasionalisering nie maar net ‘n abstrakte droom oor die verre toekoms deur ‘n paar waansinniges in die regerende party is nie. Die VF Plus waarsku lank reeds oor die radikalisering binne die regerende party en dit is nou besig om te realiseer,” het Beyers gesê.
Volgens die VF Plus behoort belanghebbendes insluitende die mynboubedryf, bankwese, landbousektor, vakbondwese, burgerlike samelewing asook politieke partye op ‘n gekoördineerde wyse saam te werk ten einde voorbereidings te tref om die bedreiging aan te spreek.
Dit begin duidelik word dat die ANC en sy alliansievennote tans deur ekonomiese ideologie gedryf word en dat hulle nie sal skroom om die land ekonomies te vernietig in die proses nie. “As die ANC toegelaat word om die grondwetlike reg op eiendom weg te neem, sal daar geen keer wees nie. Daarna sal geen eiendom meer veilig wees nie – die gulsige elite wat voordeel uit nasionalisering trek sal nie stop voordat alle Suid-Afrikaanse hulpbronne en welvaart opgevreet is nie”.
