‘n Franse politikus het op nasionale TV gesê dat ‘n voormalige minster in Marrakesj in hegtenis geneem is ná hy seuns tydens ‘n orgie gemolesteer het. Dit is die derde Franse persoonlikheid wat in verband met onsedelike gedrag in die kollig beland.
Die politikus voer aan dat senior beamptes die voorval toegesmeer het, maar sal nou sy storie aan die polsie moet oorvertel wat daarop aandring om hom te ondervra.
Luc Ferry, ‘n bekende filosoof, het op TV aangekondig dat hy van die skandaal gehoor het by “‘n premier” terwyl hy nog minister van opvoedkunde was.
Hy is blykbaar vertel van ‘n voormalige minister wat in Marrakesj op aanklagte van pedofilie in hegtenis geneem is.
Die minister is blykbaar teruggevlieg Frankryk toe en die inhegtenisname is stilgehou.
Ferry het dit wel duidelik gemaak dat hy geen werklike bewyse van die vermeende voorval het nie.
Dié gerug kom egter kort op die hakke van twee seksskandale in Frankryk wat die gedrag van Frankryk se chauvinistiese politieke elite onder die soeklig plaas.
‘n Minister in Sarkozy se kabinet, Georges Tron, het slegs twee weke ná die skandaal wat IMF-hoof Dominique Strauss-Kahn sy werk gekos het, ook bedank nadat hy vir onsedelike aanranding en verkragting aangekla is.
