Suid-Afrika is vandag die ekonomiese reus in Afrika en dit is belangrik om erkenning te gee aan almal wat die afgelope vyftig jaar deur harde werk dit moontlik gemaak het.
In die eerste dekade na Republiekwording het Suid-Afrika deurlopend ‘n gemiddelde groeikoers van 6% per jaar gehad met ‘n inflasiekoers van 2% per jaar terwyl die prima rentekoers tussen 3% en 3,5% gewissel het. Hierop is die ekonomiese sterk Suid-Afrika van vandag gebou.
Suid-Afrika is vandag ekonomies meer as twee keer so sterk soos Nigerië en amper drie-keer so sterk soos Egipte. Suid-Afrika is ekonomies 80 keer sterker as die gemiddelde Afrikastaat. Daarbenewens het Suid-Afrika die beste paaie-, krag- en telefoonnetwerke in Afrika en is ons aandelebeurs een van die tien grootste aandelebeurse in die wêreld. Amper die helfte van alle teerpaaie in Afrika, is in Suid-Afrika.
Pogings om die geskiedenis te verander deur sekere van hierdie geskiedenisfeite te ignoreer, maak geen bydrae tot versoening in Suid-Afrika nie. Samewerking met die oog op ‘n voorspoedige toekoms lê eerder daarin om op ‘n gebalanseerde wyse foute en prestasies van die verlede te beoordeel en billike erkenning te gee aan alle rolspelers wat Suid-Afrika die land gemaak het wat dit vandag is.
