Volgens adv. Anton Alberts, VF Plus-parlementêre woordvoerder oor vervoer, kom daar elke dag meer inligting na vore wat daarop dui dat die proses moontlik bekook is en dat die belastingbetaler en padverbruiker met ‘n slenter gevang word deur gedwing te word om te betaal vir ‘n duur projek wat blykbaar baie meer koste-effektief gehanteer kon gewees het.
“Benewens die feit dat nie alle kostes openbaar gemaak is nie, is daar steeds onduidelikheid oor die formule wat gebruik is om die tariewe te bepaal. Die afwesigheid van inligting het dit moeilik gemaak om behoorlik met SANRAL in gesprek te tree oor die verdienstelikheid, al dan nie, van hulle voorgestelde tariewe,” het Alberts verder gesê.
Die VF Plus beskou ook die terughou van kerninligting rondom die projek as gronde vir die tersydestelling van die konsultasieproses aangesien die deelnemers ontneem word van hulle reg om behoorlik te reageer op die besluit wat SANRAL/SANPAB geneem het.
